My contribution to the Afrikaans translation of Battle for Wesnoth ( https://github.com/wesnoth/wesnoth )
Die doel hiervan is om 'n plek te hê waar opgedateerde af.po lêers vir Wesnoth ( https://githbub.com/wesnoth/wesnoth ) te deel met ander vertalers. Wesnoth laat wel nie direkte opdaterings (Pull requests) toe na hulle gitbhub stoorplek nie, Wat ek wil vermy met hierdie repo is om oor en oor leêrs as aanhegsels na ander vertalers te stuur. Ek wil ook 'n spasie skep waar aspekte van vertaling bespreek kan word. Hierdie is nie ideaal daarvoor nie, maar as iemand 'n probleem met 'n aspek van 'n vertaling het, of 'n voorstel, kan Github se "Issues" opsies daarvoor gebruik word.
Daar is 'n bykomende .po leêr, wesnoth.po wat nie deel van Wesnoth is nie. Hierdie is egter 'n kritieke leêr wat dien as gesaghebbende manifes van terminologie wat regdeur Wesnoth gebruik word. Enigeen wat in die Afrikaanse vertaling van Wesnoth belang stel kan gerus hierdie leêr in GitHub self besigtig deur op die skakel te klik. Die enigse rede hoekom dit in .po formaat is, is sodat die terme in die vertalingsgeheue van die vertaalprogramme kan kom. Deur eers die kernterminologie in hierdie leêr te vertaal, kan ek dit dan by voltooing oordra na die ander vertaalleêrs, een term op 'n slag. Ek bereken dat hierdie werskwyse die totale persentasie van Westnoth binne 'n kort tyd tot 'n skaflike vertaalde persentasie kan opstoot.
Een van die huidige probleme is dat dieselfde terminologie op verskillende plekke met verskillende terme vertaal word wat weer aansienlike werk skep omdat dit nagegaan en reggestel moet word. Dit is juis die afwesigheid van een sentrale manifes wat hierdie probleem in die eerste plek veroorsaak.
Waar die meeste Afrikaanse vertalers die program Virtaal gebruik, gebruik ek egter die Lokalize program vir 'n paar eenvoudige redes.
- Dit werk vir my.
- Dit word nie stadiger as 'n hele vertaalprojek gelaai word nie.
- In teenstelling met my vorige ondervinding met virtaal, het Lokalize nog nie 'n .po leêr verloor of gekorrupteer nie.
Ek is oortuig dat Virtaal 'n puik program is en dat al die fouter en probleme uitegestreik is, maar ek is nou so diep gevestig in die gebruik van Lokalize vir ander projekte dat dit lankal verby die punt van verandering is.
Die formaat van .po leêrs is (behoort) agnosties te wees ongeag van die program wat gebruik word. Dit is altyd so, behalwe vir somtyds...
Hier is 'n bykomende leêr, afrikaanse-rekenaarterme.po wat 'n lang lys van Afrikaanse rekenaarterme bevat wat ek oor dekades vanaf verskeie bronne opgestel het. Daardie leêr is nie deel van die Wesnoth vertaling nie, maar is deel van hierdie vertalingsprojek. Dit word gedoen sodat daardie terminologie, net soos met wesnoth.po (die Wesnoth veraal manifes) in Lokalize se vertalings geheue kan wees.
In teenstelling met ander vertaal projekte van rekenaarprogrammatuur, moet daar in gedagte gehou word dat Wesnoth 'n speletjie is. Maar veel meer as 'n speletjie, is Wesnoth eerstens 'n fantasiespel. Daarom moet in gedagte gehou word dat moderne terminologie minder geskik is as die geykte vorme of self woorde wat ontleen word aan Duits, Nederlands, Frans en Engels. Party woorde kan of moet selfs eiesoortige skeppings in Afrikaans wees, maar met die veronderstelling dat die stam van die woord ontleen moet word aan 'n Germaniese of selfs 'n geykte Engelse term wat wortels in die volksnaam het. As voorbeeld, sal ek die voorstel maak om die woord in die ou Afrikaanse volksmond, "kroek" te gebruik as vertaling van "outlaw" waarvan die Engelse woord "crook" 'n sinoniem is. 'n Ander voorstel sou wees om die woord Pirate Galley eerder met Seerowergallei te vertaal as die moderne vorm nl Seerowerskip.
Gevolglik is daar 'n paar kernreëls wat ek wil volg.
- Die vertaling moet nie soos soms met ander rekenaarprogramme in Afrikaans krapperig wees nie. Enigeen vanaf 'n sesjarige kind tot 'n pensionaris moet Wesnoth kan begin en dadelik tuis voel sonder om in die minste te wonder oor wat daardie term nou eintlik beteken. Myns insiens moet ons gevolglik poog vir terme wat verstaanbaar is eerder as terme wat absoluut korrek is.
- Die Afrikaanse terme vir die speldeel van Wesnoth moet opwekkend, ligsinnig en oorspronklik wees en moet die Afrikaanse speler net soveel meer motiveer om van Wesnoth te hou en om dit aan hul vriende te wys.
- Omdat dit 'n fantasiespel is wat in 'n voormoderne tyd afspeel, is dit verkieslik om waar moontlik moderne woorde in die volksmond te vermy ten gunste van ouer of geykte vorme. Verkieste woorde val in die kategorië:
- Nuwe Afrikaanse vorme soos die skitterende vertaling van "Yster Moker" vir "Iron Mauler". Sulke nuwe vorme is verkiesliker as enige ander vorme.
- Ou woorde met Germaniese stamme wat in onbruik geraak het, soos "Seerowergalei" vir die moderne "Seerowerskip" of selfs 'n pasgemaakte vorm soos "Seerowergaljoen."
- Pasgemaakte woorde met Germaniese, Latynse of selfs Engelse stamvorme. As voorbeeld, is daar 'n woord "Kroek" wat voorheen meer algemeen in die volksmond was, ontleen aan die Engelse "Crook" wat sinoniem is met "Outlaw".
- Omdat Wesnoth 'n speletjie is, word daar heelwat beweegruimte vir die vertaling daarvan toegelaat.
- Rekenaaar aspekte soos stoor, oopmaak ens moet voldoen aan die standaarde van Afrikaanse vertalings in die bedryf.
- Die speletjie aspekte moet vloeiend, idiomaties en uniek Afrikaans wees, nie direkte sintaktiese vertalings van Engels nie. Om te verstaan waarvan ek praat, kyk na die voorgestelde vertalings in wesnoth.po waar die Engelse "skeleton" nie noodwendig met "geraamte" vertaal moet word nie, maar dalk eerder "skeletdanser", "beenratelaar" of iets dergeliks wees wat uniek en eg Afrikaans is. Ons het een kans hier om iets oulik te skep, kom ons foeter dit nie op nie.
Soos reeds genoem sal van die benamings in 'n fantasiespeletjie noodwendig pasgemaakte skeppings moet wees.
Daar is ook die veronderstelling dat 'n fantasiespel 'n bepaalde eiesoortige kleur en geur het. Waar die spel 'n konvensie het van vegtende eenhede en ander benamings in twee woorde, elk met 'n hoofletter te skryf ("Iron Giant") vereis die Afrikaanse taalreël dat dit aaneen geskryf word ("Ystermoker"). Maar dit is teenstrydig met die geur en kleur van die spel, daarom moet ons noodwendig die Taalfassiste se argwaan verduur deur benamings waar moontlik, as twee woorde elke met 'n hoofletter ("Yster Moker") waar moontlik. Die bestaande konvensies van Wesnoth sal die heersende stylreëls wees wat die gebruik van hoofletters betref.
'n Vername deel van die werk is reeds gedoen. Sonder die rekenaarterminologie en manifes leêrs, is daar bykans 17,000 terme in totaal om te vertaal. Maar ongeveer 4% is nie direkte woorde nie, maar lywige paragrawe wat vertaling in idiomaties Afrikaans benodig en heelwat langer tyd in beslag neem. Huidiglik moet sowat 7% hersien word, maar eintlik moet alles eenmalig hersien word om die basis op te stel, en sowat 44% van die totale projek het geen vertaling nie.
Genoeg gepraat, daar is werk om te doen.